Showing posts with label afrikaans. Show all posts
Showing posts with label afrikaans. Show all posts

Wednesday, 26 August 2015

Met jou klere aan

Skooltyd moes ons 'n internskap doen.
Vir 'n week was ek by Protea Boekhuis in Hatfield. In die oggende het ek met die bus stad toe gery, my Discman in my sak en die CD van die dag gereed vir die uur wat ons deur Pretoria sou ry. By die werk het ek nie juis veel gedoen nie. Ek het in 'n hoekie gesit en manuskripte gelees, meer kan ek nie onthou nie.

Een van die vrouens wat daar gewerk het het dié sin teen haar muur vasgeplak, en ek sal dit nooit vergeet nie: vir julle skryf ek susters, wat in die liefde geval het, wat gebreek het soos borde.

Nou, meer as 10 jaar later, kry ek die hele gedig van Sarina Dönges aanlyn:


My arme susters

vir julle skryf ek, susters,
wat in die liefde geval het
wat gebreek het soos borde
of dunner, soos Venesiese glas

julle wat die snykant
van nagdinge ken

aan julle deure sal kom klop
die woordgeleerdes en fariseërs
uitgeswel soos somervrugte, immuun
teen die steekvlieë van die sonde.

julle wat gesmul het
aan gesteelde pere

sal snags in Mosesmandjies lê
op 'n meer van Valiums
die lakens sal julle vasrank
soos plante 'n vermoeide huis.

julle wie se minnaars wortelskiet
langs hulle geil vrouens,

julle sal opeens weet, liewe susters,
(julle lywe uitgeskud soos meelsakke)
dat julle bloot 'n bestanddeel was
nooit met liefde gesuurdeeg nie;

julle was peuselkos
aptytwekkers voor 'n maaltyd

ag, my arme susters.

Monday, 6 July 2015

Small things

17 minutes. She gave me 17 minutes before uttering her token sentence "so het ons maar ons dinge" (unsure of how to translate this, perhaps a mixture between 'that's life' and 'everyone has their own problems') and hanging up. My grandmother usually manages a maximum of five minutes of telephone conversation. Usually she'll tell me what she has been up to and then end the call by asking when I'll be back.

Maybe I got 17 minutes because I had an answer. December. 3 months, no plans.

She tells be about all the cousins, their weddings and the birth of the first great-grandchild and her neighbour Oom Boet gardening with a cane and his wife having broken her hip and that trip in the 80s to Germany before the wall fell and my ouma's own flu at the moment. Nothing is repeated, she appears as always. At 85, she has lost the ability to recall what happened a few minutes ago, but not what happened decades ago. I am told about old trips with the grandfather I never met, about what her plans for the day are, about what we'll do for Christmas.

It's a phone call, nothing big really, but in times of uncertainty it's the small things.

So het ons maar ons dinge, ne.

Sunday, 10 May 2015

You got some me in you

Jy stuur foto's van skape voor julle twee weer op pad is. Hoe anders ons verhouding is in vergelyking met julle s'n. Vandag het ek met G. gesels oor ouers, oor wat die ander helfte gemis het deur nie daar te wees nie, watse verskil dit maak as mens saam deur die vuur moet stap. Ek verlang na jou, na die lang pad, na kos soos wat net jy dit kan maak, na tye met die hondjies, na die reuk van daai grys-blou truitjie van jou.

Ek wil voorberei vir die gesprek met die sielkundige, die voorbereiding vir 'n nog groter/ander gesprek einde van die maand, ek wil notas maak in my dagboek.

Toe kry ek dié, van 'n tyd net nadat ek weer terug was in die land waar selfs die wolke in gelid marsjeer:

Vanaand maak ek my bed
met 'n laken wat jy oor
12 000 km
2 vliegtuie
3 treine
en 'n taxi gebring het.
Dit is niks besonders nie,
vaal blou. Dis al.
Maar selfs deur my
verstopte neus
(verkoue in die somer? waar op Gods aarde?)
ruik ek hy is van ver,
van die tuiste af. 


Ek is lief vir jou Moomin.

Tuesday, 21 October 2014

Light home


Negester en stedelig

Terwyl die Negesterre en die stedeligte witter
in die donker suidelike nagte óm ons skitter,
slaap jy nog weg in nag en swye
langs mos en varings van eertye:
’n see-anemoon waar geel spirale
lig deur water in jou van ’n Oerson daal,
daal in jou slaap; jy roer,
’n vis teen riet en maan se perlemoer;
jy sluimer in ’n tonnel van die kuil –
’n otter in nat holtes nog verskuil;
dan stort jy skielik uit as mens, besitter
van die Negester en stedelig se skitter.
Saans as die rye ligte langs die strate brand
sal jy met wye oë en met kleine hand
vir my bedui en stotterend sê
hoe groot houttolle kabels in diep slote lê;
partymaal sal jy by my tafel neul
om na die sirkus of die mallemeul
te gaan; en vaster om jou groei bioskope,
fabrieke, speurverhale en mynhope;
saans sal die stad se ligte witter
in jou donker siel bly skitter.
Watter kaart of watter ster sal ek jou wys
om veilig deur die grysland heen te reis?
Sal ek van ’n God praat wat verdoem,
van Christus, en die Tien Gebooie noem?
Voorlopig dan, maar onthou altyd
aan jou dade grens ’n ewigheid;
gee sin aan voorgeslagte deur die eeue heen,
besef jy is ’n vegter weer van die begin, alleen;
en mag die Suiderkruis en Negesterre witter
as die stedeligte in jou siel bly skitter.
~ DJ Opperman



Hierdie hemel is nie myne nie, agter wolke sonder einde skuil geen sterre wat vir my iets beteken nie. Hier ken ek nie my pad nie, hier is geen Suiderkruis wat wys waar my plek in die wêreld is nie.


Gedurend die tuisvakansie het ons twee plaas toe gery. Daai eerste aand het ons met tee en komberse buite gaan sit en ons plek tussen die sterre gekry. Ligjare se ligte het oor ons geskyn terwyl die melkweg vir ons ons rigting gewys het. Salig en gelukkig om in daai oomblik met jou te wees het ek geweet dat solank jy by my is, solank hierdie hemel 'n stukkie myne bly, sal ek nie die pad duister raak nie.

Tuesday, 3 June 2014

Hartklop

My ma stuur vir my poësie uit die moederland.

Grense

My naakte siel wil sonder skrome
in alle eenvoud tot jou gaan,
soos uit diepe slaap ons drome,
soos teen skemerlug die bome
opreik na die bloue maan;

gaan met al sy donker wense,
en die heilige, nooit-gehoorde
dinge sê, waarvoor die mense
huiwer, en wat om die grense
flikker van my duister woorde.

~NP van Wyk Louw

Sunday, 8 December 2013

Tribute


ondergronds het ’n rif geskuif
die aarde struikel
verward swik die son

toe sy asem hom verlaat het in die nag
het die sterre geduisel
want alles is verstrengel
wurgend aan sy dood
sy dood en die dood alleen

ineens is alles droef
asof ons in ’n groot skadu staan
asof glas deur ons breek
asof klip in ons splinter
asof ons gedagtes in fluisterende wanhopige groepe rondvlug
soos assegaaie in die grond bly vassteek

trillend

in Qunu weier die beeste vanoggend om uit die kraal te gaan
by Lusikisiki lê die visse na aan die oppervlakte
in Mvezo maak die korhane geen geluid nie

die gedagte aan Mandela laat ons binnekante knak
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
ons kan selfs nie die mond oopmaak nie
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
om te begin praat oor sy dood om te praat oor sy dade
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
oor sy bloed wat pyl soos ’n luiperd na geregtigheid
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
om te vertel van sy werke, sy sagte ongelooflike krag
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
die lieflike nate van sy blommende vergewende kopbeen
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
die stormram van sy tong
wat toekomste tot ’n verbonde kern wring

ons kan nie reg laat geskied aan Ons Grote
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
ons wil dit nie sien nie

in die voetpaaie, op die sypaadjies, in busse langs die paaie
bondel ons swyend bymekaar, ons die gewones
ons sprinkel ons trane oor hom
ons besprinkel die erflating
van die Vreeslose Kryger wat ons eenmaal regeer het
ons besprinkel die lyk wat gewas moet word
ons besprinkel die geopende bloed van Mandela
ons gewones was hom nie met water nie maar met liedere

met droefheid neem ons sy liggaam
ons was dit, ons bad dit
met hande wat hom liefhet, raak ons aan sy dade
ons gee hom aan, van hand tot hand
hoog bokant ons koppe
die man wat ons van onsself gered het

o singende bloed van die seun van uNosekeni
o palms van Mvezo vol sterre en reën aan die oewers
o arms van Qunu wat ’n land se diepste wonde omhels

die Groot Aanmekaarbinder
niemand se strottehoof kan Mandela se lied end-uit sing nie
niemand ontglans ooit ons Groot Saambinder vir ons nie
niemand oortref hom in morele gesag nie
geen leier is nog ooit só deur sy mense lief gehad nie
hy wat ons beste gesig was
hy wat ons aan onsself teruggegee het

die beliggaming van die wêreld se smagting
na iemand wat omgee
wie se dade onbeskaamd goedheid wou bring

geliefde Mandela, bring seën op ons, jou kinders
laat jou lewe sy vingerafdruk op ons almal laat
dit sal lank duur voordat ons ooit weer ’n mens so edel
iemand so genesend en koppig mooi
so taai van inbors so streng insluitend van beginsel
so elegant en oorrompelend van hart in ons sterflike arms kan hou

– Antjie Krog

(Gebaseer op die weeklaag geskryf vir Moshoeshoe 1, “LITHOKHOKISO tsa Moshoeshoe le tse ling” deur David Cranmer Theko Bereng.)


Maya Angelou also wrote a tribute poem entitled His Day is Done

Monday, 1 July 2013

Tussen Stasies

Recently my mom and I went on a train trip down to P.E. It turned out to be somewhat of a disaster, but it was still a lot of fun to observe all the characters on the Shosholoza Meyl. Here is a short story I wrote about the experience for an Afrikaans writing competition (since I didn't win I guess I can publish it myself :)

Tussen Stasies

Tannie Loretta klim in. Sy het twee koffertjies met wiele, die res van haar pakkasie is net sakkies en tassies en kussings en komberse. Sy dra ‘n ou army-groen t-hemp en ‘n pers broek waarin sy sommer ook kan slaap. Tussen die rol van borste en die rol van ‘n magie sit nog ‘n rolletjie. Haar gesig is kwaai met mondhoeke wat lyk as of hulle altyd vir haar ken,  en nie vir haar wange groet nie. Sy het klein ogies wat agter ‘n ou bril skuil, wit hare wat bruin gekleur is en ‘n sakkie om haar nek vir haar selfoon.

Sy sê vir my ma dat sy haar maar ‘Loretta’ kan noem, maar omdat ek jonk is mag ek ‘Tannie Lorie’ vir haar sê. Let wel, ek noem nie eers my tannie ‘tannie’ nie. Ek is geleer van jy/jou en u/Mevrou, nie van tannies en ooms en mense op die mond soen nie. Dus is dit vir my ‘n hengse taak om vir wat ek dink 20 ure gaan wees nie ‘jy’ of ‘tannie’ te sê nie.
Dis 1 uur. Die trein behoort binne 15 minute uit Johannesburg stasie te vertrek. Almal het gesê ons is mal om die trein te vat. Hulle het vertel van mense wat oorval is en wat ure langer gevat het,  as wat op die kaartjies aangeteken was. Hulle het ons gevra hoekom ons so iets sou wou doen, die trein is moes net vir die “anderskleuriges”, soos my ouma sou sê, of vir die wat arm is. Dalk beteken ‘anderskleurig’ en ‘arm’ maar dieselfde ding.  Hulle sê die Shosholoza Meyl is nie vir mense soos ons wat grade het en ander tale praat en moes eintlik van OR Tambo af  vertrek.

Nee, die Shosholoza Meyl is vir mense wat te baie bagasie het vir die bus. Dis vir die twee ouer kleurling dames wat in een hoek van Park stasie op ‘n bank sit en ‘n wyntjie uit ‘n plastiek beker drink terwyl hulle tussen berge kussings wag. Dis vir die man in die straatskoonmakeruniform wat op ‘n koffer sit en met sy klein dogtertjie speel. Dit is vir die ou mense wie se pensioen nie genoeg is nie, wie se kinders nie omgee en wie se lywe nie meer werk nie. Dit is vir armblanke oumas en kleinkinders in goedkoop sweetpakke waar die ma haar twee dogtertjies met die woorde “soet wees” groet.

Ja nee, die trein is nie vir mense wat ‘n Gau- voor die woord moet sit nie.
En tog trotseer ons die idee van wie waar hoort, van wie wat mag doen, van ‘n apartheid wat nou tussen klas veel meer as tussen ras is.

Tannie Loretta vertel hoe sy 49 jaar terug haar man in die stad van goud leer ken het, hoe hy vir haar na die Baai toe getrek het, hoe hy nou onlangs dood is. Sy lyk soos iemand wat te baie al swaargekry het om aan die vinnige veranderinge van die moderne lewe aantepas. Gelukkig is dit net ons drie in die kompartement wat eintlik gemaak is vir ses. Tannie Loretta en haar pakasie is versprei op die bank wat in ryrigting kyk, ons twee aan die ander kant. As dit aand word klap ons die beddens af en slaap bo terwyl sy onder skuins lê.
13.20 trek ons weg. Ons ry deur die ooste van Johannesburg, deur Denver en Driehoek en Germiston. Dit is net vullis en slegte graffiti op die spore, met plakkerskampe en industriele areas wat mekaar afwissel as mens uit die venster kyk. Ek is baie opgewonde, na ‘n halwe jaar van onsekerheid en verwerping het ek ‘n avontuur soos dié nodig.
Ons stop op Vereeniging. Nettie klim in en moet eintlik in ons kompartement sit. Sy is aan die verkeerde kant van 60, met ‘n lyfie wat lyk as of hy dringend kos nodig het en hare wat al te baie keer deur kleur en krullers gemartel is. Sy sien daar is geen plek vir haar by ons nie en verdwyn. Later vind ons uit sy is in ‘n coupé langs ons, lekker op haar eie.
In ons kompartement kuier ons verder. Die padkos is eerste uitgepak en wag op die tafeltjie by die venster vandat ons op Parkstasie gesit het en gewag het om wegtetrek. Dis mos maar hoe Suid Afrikaners is: ons het ons padkos nodig, maak nie saak hoe ver ons op pad is nie. Toe my vriendin Karen die min goedjies in my mandjie by die supermark sien was sy skoon bekommerd, sy het gedink dit sal nooit genoeg wees vir 20 ure op ‘n trein nie.  Minwetend  sou sy nog reg wees ook.
Van iewers af organiseer ons vir elkeen ‘n koppie tee. Ons pak choc-chip koekies en beskuit uit wat my ma gebak het. Tannie Loretta soek dadelik die resep, maar my ma kan hom nie onthou nie. Ons belowe om hom met die pos te stuur. Die gesprek wissel van hoe mens pruimkonfyt lekker by ‘n sjokoladekoek kan voeg na hoe Tannie Loretta- hulle alles verloor het weens die sanksies. Hul het hul plaas vir “’n appel en ‘n ui” verkoop en op ‘n kleinhoewe gaan bly. Nou, net na haar man se dood, het die eienaars van die erf vir haar kennis gegee, sommer so oor die draadmuur.
My ma en ek gaan kry aandete in die eetsalon net voordat ons Kroonstad tref. Ons deel ‘n beeskerrie met geel rys terwyl die landskap buite donker word. ‘n Ouer engelsman en sy seun sit links van ons. Die man maak as of hy vreeslik belangrik is en is ongeskik met almal. Dit lyk nie of hy en sy seun ‘n goeie verhouding het nie, ek sou nie geraai het hulle is familie as een van die dames wat op die trein werk dit nie sou gesê het nie.
Toe ons terugkom na ons kompartement toe, is ons beddens gemaak en almal is reg vir die kooi. Ons sien uit daarna om rustig op te staan, te stort en teen 9 uur die volgende oggend in Port Elizabeth se stasie te wees.
Ek sluimer in die donkerte van die kompartement in, maar ek hoor hoe ons net voor middernag in Bloemfontein stop en mense inklim.  Ek dink nog dat ek nou rustig sal kan slaap omdat daar geen groot stasies meer is nie en die trein soos ‘n reusagtige wieg voel.
Toe slaan die horlosie een uur en die nagmerrie begin. Eers skreeu ‘n baba sonder einde, met ‘n ander dogterjie wat “Heidi” sing en ‘n man wat hardop met sy vrou baklei. Dit klink as of ‘n hele kindergarten deur die gang hardloop en speel terwyl die personeel op die trein ook vir mekaar skreeu. Ons lê al drie wakker.
Ek kom agter die trein beweeg nie en ons hoor die woorde “big problems” buite ons deur. Tannie Loretta sê haar slaap is skoon uit haar uit. ‘n Half-uur later snork sy so hard dat ek en my ma soos tiener dogters in ons beddens lê en giggel: mens kan net niks anders doen nie omdat dit voel as of die hele dekselse wêreld vir jou uit  die slaap probeer  hou.
Ons verneem dat ons net 20 minute buite Bloemfontein is. Dit is nou 3 uur die oggend en mense toyi-toyi in die eetsaal. Niemand weet wat aangaan nie, die trein staan-staan- staan net. Iemand sê die lokomotief het gebreek, dat busse sal  kom om ons te haal. Tannie Loretta steun dat alles  nou “oppie koffie” is. Ons besluit maar om nou te gaan stort, want om so vuilerig nog ure in ‘n bus te sit klink soos hel. In elk geval kan ons nie slaap nie en dit lyk nie as of enige iets gebeur nie.  Gelukkig werk die krag op die trein nog en daar is warm water. Tot nou dink ek steeds ons gaan maar net ‘n paar uur laat wees, dat alles nie so erg is nie: soos met meeste goed in ons land moet mens maar net ‘n bietjie geduld hê en dan werk alles tog uit.
Die son begin stadig opkom oor die Vrystaatse vlaktes. ‘n Nors mannetjie kom sê vir ons dat ons oor 20 minute gehaal sal word, ons moet ons goedjies pak en regstaan vir die busse. ‘n Man begin hardop preek oor hoe hy ‘n getuie is van God en hoe Suid Afrika se tyd gekom het. Na ‘n uur is daar geen busse in sig en God lyk ook nie as of hy baie omgee vir treine wat gaan staan nie . Die gepreek raak net te erg, so ek gaan vra  die man of hy nie kan ophou nie,  of  ten minste sy deur kan toemaak, sodat almal nie deur hom gepla word nie. Hy sê almal moet hom hoor, maar na die nag wat ons gehad het is niemand lus nie.  Die baba begin weer te huil.  Ook dit nog.
‘n Ander trein kom stop langs ons. Niks gebeur nie. Die trein ry weer weg. Ons hoor later dat die helfte van die personeel op daardie trein terug is Johannesburg toe. Ons sit verder en vries, die wind blaas sterk buite die trein.
Net na 10 uur is ons terug in Bloemfontein. Eintlik moes ons nou al in P.E. afgeklim het. Al die mense in derde klas, wat net ‘n sitplek en nie ‘n hele bed op die trein kon bekostig nie, peul uit die trein met hul kinders en bagasie.  Vir ons is gesê dat ons op die trein kan bly, maar ek is onder die indruk dat die mense dit nie weet nie, hulle word na die busse toe gestuur. Dit is een hengse deurmekaar spul, vrouens sukkel om swart sakke en klein kindertjies bymekaar te hou.  Daar is een klein seuntjie wat ‘n koffer dra soos ‘n groot man. Ek wonder waar hierdie kind gaan opeindig, so belas deur ander se goed.
‘n Uur later is ons weer op pad. Van vyfhonderd mense is daar net vyftig oor. Die personeel is op hul derde skof sonder slaap. Dit voel as of ons nooit die Vrystaat sal verlaat nie, asof ons gevange is hier. Die ironie. ‘n Sterk wind fluit buite, ons sit toegedraai in komberse en peusel. Uiteindelik ry ons oor die Gariep en in die Noord Kaap in. Dit voel darem nou asof ons beweeg.
Tannie Loretta vertel hoe sy in Junie verloof geraak het en in Augustus getroud is, destyds. Ons ry deur  lang oomblikke van swart, die tonnels het begin. Die kompartement het al klaar die reuk van mense wat te lank saam in ‘n klein spasie is, maar nou raak dit erger: Tannie Loretta se chili-sous het uitgeloop en sy wil dit steeds nie weggooi nie. Alles ryk nou net te sterk. Ons ruk die vensters oop en gaan ontsnap na die eetsalon toe vir ‘n teetjie.
Daar ontmoet ons ‘n ouer paartjie wat na die see toe trek. Hulle vertel hoe twee ouer dames twee klein hondjies in ‘n koelsak saamsmokkel. Almal deel stories, mens raak maar gesellig so as mens deur dieselfde ding gaan en nie weet wanneer mens gaan aankom. Die nors man met sy seun kry weer ‘n plek net langs ons. Hy is vreeslik onvriendelik met die personeel, en blaf bevele as of hy die baas is. Almal is moeg, almal wil by die kus aankom, almal is al baie langer op die trein as  wat hulle gedink het hulle sal wees. Maar dit blyk nie asof Meneer Gifappel dit kan verstaan nie.
Ons gaan maar terug na ons kompartement toe. Die passasiere kuier so oor en weer by mekaar. In die donkerte  sien ons af en toe ‘n eensame lig, dit voel as of ons deel is van die Neverending Story. Hier kom verskillende wêrelde bymekaar, mense wat nooit mekaar se geselskap sou gesoek het nie, deel stories terwyl die trein stadig soos ‘n slang sy pad deur die land kry. Soos wat die verkoper vir my ma by Pretoria stasie gesê het toe sy die kaartjies gaan haal het: mens moet nie die trein vat as mens haastig is nie. Dalk was dit die sjarme: om rustig ‘n pad te vat wat net in een rigting gaan. ‘n Trein kan moes nie ‘n verkeerde draai maak nie. Ons, in teendeel, kan.
Tannie Loretta sit tussen al haar pakkies. Sy is reg om af te klim, maar is bekommerd oor hoe sy alles van die trein  gaan kry. Ook sy het al haar komberse  weggepak en nou kruip die koue weer in ons kompartement in. Ek kry vir elk ‘n kombers wat saamgevrommel bo op die een kooi lê.  Mens hoor net die geluide van wiele op spore. Daar is niks om na te kyk in die donkerte nie, daar is niks meer om te eet nie,  die gesels het opgedroog.  Almal wil nou net aankom.
Uiteindelik raak die liggies meer en almal skuif hul bagasie in die gang in. Ons ry-ry-ry deur Port Elizabeth, ons is hier maar kom net nie aan nie. Na ‘n hele ruk gaan staan die trein eers. Mense wag op die peron, hulle haal hul vriende en familie. Almal is gedaan. Ons help vir Tannie Loretta om haar goedjies van die trein af te kry, gelukkig is haar mense daar. Sy gee vir ons elk ‘n stywe druk en verdwyn.
Na alles was sy tog reg toe sy nog in Johannesburg vir ons gesê het dat “mens nie oorsee hoef te gaan om te travel nie”. Nee, al wat mens moet doen is in die trein klim. 

Thursday, 13 June 2013

Gotta keep moving with a troubled mind a following



Twee jaar gelede wou ek vir my ouma se verjaarsdag foto's van die hele familie se hande kry en op een of ander manier bymekaar sit. Sy het foto's van almal in haar huis, maar die hele klomp is nooit saam op een foto nie. Ek dink daar is net een foto van 1996 waar die een oumagrootjie verjaar het en omtrent almal daar was. Maar nou bestaan dieselfde eenheid nie meer nie: van hulle is oorsee, ander is geskei, ander is nie meer deel van die familie nie en ander het weer nuut bygekom. In die ou end het my idee nie gewerk nie, maar ek het tog die cool een van my neef se hande geneem.

Dit is nogals vreemd. Al die niggies en neefies kom nie gereeld bymekaar nie, maar as dit gebeur kuier ons tog heel lekker saam (dalk dink ek net so, haha). Van hulle is nou meer Engels as Afrikaans, van hulle is/was oorsee, van hulle kom dalk nooit terug nie. Op een of ander manier bly mens steeds familie, en stel belang in mekaar se lewens. Ek dink net dit raak moeiliker hoe ouer mens word en hoe verder weg mens van mekaar af bly. Destyds het ons ouers vir mekaar gekuier en so het ons maar met mekaar gespeel, maar nou moet mens moeite doen dat die kringe van ons lewens nog steeds mekaar oorvleuel.

Dit voel vir my ook altyd as of die ander weet waar hulle hoort.

My neef klink soos sy pa as hy praat, en waneer hy goed vertel klink dit as of hy weet waar sy wortels is en waar hy wil bly. Hy het 'n passie vir sy omgewing wat ek eer het as ek in ander stede die metro kan vat en kan rondstap. Die Vrystaat is vir my 'n plek waar ek ons trein te lank gestaan het en waar die lig altyd mooi is om foto's te neem. Dit is nie naby aan my hart nie, maar Pretoria of Duitsland is ook nie eintlik nie. Dalk het ek wieletjies aan my boude en kan nie ophou beweeg nie waar die ander al 'n plek gekry het waar hulle maar die remme kon trap en hul wortels kon ingrawe.


Sunday, 17 February 2013

Ek herhaal jou


Dit is altyd tyd om te gaan, om jou tas met kreukelvrye hemde en iets vir die aand en broeke wat beskerm teen muggies en multi-tasking skoene te pak. En mens moenie vergeet van die boekrak vol boeke en notas wat jy probeer in 'n ander sak te stop teen spyte van die iPad en Google. Die internet weet tóg nie alles nie, veral as dit kom by bokkies en blare.

Jy los altyd vir ons die huis so voorberei as of 'n atoombomb Pretoria sou tref en ons jare sou moes oorlef. Net met smullekker opsies, dis niks blikspaghetti of bone op roosterbrood by ons nie. So ook die versoek dat ek 'n sjokoladekoek moet bak.


Ek weet nie hoe dit by ander mense se families is nie, maar die vrouens in myne is groot op kosmaak. My Duitse ouma het altyd Späztle gemaak met Rouladen en as nagereg was daar een of ander enorme koek. My ander ouma is nie juis so dol daaroor om ure in die kombuis te staan nie, maar soms maak sy 'n hoendertjie, of bederf ons met beskuit en heuning wat sy iewers by 'n padstal gekoop het. Sy is ook die een om te bel as jy blatjang of kweperjellie of enige voedselpreservering wil doen.

Maar die wenner bly my ma. Toe ons klein was het sy altyd baie moeite gedoen met onthale vir al die diplomate. Dit was net tafels gelaai vol pragtige bakke met happies of verskillende koeke of antipasti. As kind het ek die pienk salm-mousse in visvorm of die koue beetsop nie so waardeer nie. Maar vir ons verjaardae was daar altyd wonderlike koeke om na die speletjies (nou die drankies) te geniet, of dit nou 'n kat met 'n snor uit liquorice is toe ek vyf geword het, of laas jaar se drie-lae-sjokolade-mousse-koek.

Sonder my ma sou ons nooit die twee kante van 'n ordentlike fees leer ken het nie. Daar is die ure van voorbereiding in die kombuis, wat soms dae voor die tyd begin. Dan is daar die opskepbakke uit pewter wat sy uit Mexiko gebring het, of dié met die bont groente aan die kant, of selfs die Rosenthal porselein. En moenie van die tafeldoeke en die bordjies en die koffiekoppies (wat my neef gesê het mens nie mooi kan vashou nie) vergeet nie. By 'n ordentlike onthaal moet mens altyd 'n bietjie bang wees om die breekgoed nie te breek nie.

Die kos is natuurlik altyd die hoogtepunt. As almal smul en gesels weet jy al die werk voor die tyd, en al die skottelgoed wat nog vir jou wag, was die moeite werd.

My ma het ons geleer om nie bang te wees vir kos nie, om altyd nuwe resepte te probeer en om daai moeite wat agter elke pragtige dis gedoen word te waardeer. En dit is iets wat ek altyd met my sal dra.




 


Saturday, 13 October 2012

Op die voetpad, o bokkie,

In die Kaap het ons die een aand voor die fees in Darling maar vir Langstraat aangedurf om met my niggie 'n burger te eet en bietjie die naglewe te geniet voor 'n mens sonder storte vir twee dae moet oorleef (wat toe nie waar was nie siende dat Daisies haardroers en straighteners voorsien). Ons het in 'n stegie langs die hoofpad parkeer omdat dit heel veilig gelyk het en daar 'n karwag uit die Kongo was.

Toe ons na die aand se avonture weer by die kar kom, betrap ons 'n baie maer jong man wat soos 'n sletterige dame aangetrek was (maar hy het die bene vir so kort rokkie gehad as ons nou moet eerlik wees) en wat besig was om hastig sy klere in een van daai gate in die straat met die metal deksels te versteek, julle weet, daai wat na die rioolpype lei of so iets. Hy't vir ons verduidelik "dis my cupboard dié, anders jaag die polisie my", en met sy vingers 'n kruis oor die deksel gemaak nadat hy alles daar ingeprop het om dit te beskerm.

Toe ons uitry het hy vir "'n paar bronsies" gevra en ons gehelp om nie in die ander karre vas te ry nie, donder maar die mense in die Kaap ken van parallel parkeer en in klein gate indruk. Is ek nie bly vir parkeerings wat groot genoeg is vir ossewa's (of die gunsteling kar van die ryk voorstedelik familie, 'n doublekajuit/ Land Rover/BMW X5) soos die in Menlyn.

Dalk is dit taaldiskriminasie of iets anders wat negatief klink, maar dis lekker om te luister as kleurling mense uit die Kaap praat, omdat hulle goed anders sê as ons in die Transvaal. Of eer, omdat hulle nie elke tweede woord met 'n engelse woord vervang soos ons nie. In Beaufort Wes het ons die enigste kroeg wat oop was ingedurf, dit was nie juis opwindend nie, maar na 'n rukkie het 'n ouer dame, wat nogals 'n dop te veel ingehad het, by ons kom staan en gesels. Wel, eer met die twee jong mans wat met my was, ek was nie van belang vir haar nie. Na die tyd het ek gevra of hulle kon verstaan wat sy gesê het, maar nie een van ons het heeltemal gevang wat sy vir ons wou sê nie, behalwe dat "daai moffie" vir een van my twee vriende besig was om ogies te maak. Maar dit was nog steeds lekker om te hoor dat ons dieselfde taal praat en tog verskillende dialekte (?) as moedertaal sien.

Een van die petroljoggies het ook gesê een of ander iets "is bes", ek kan nou nie onthou wat nie. Dit was net koel (haha, ek voel soos iemand wat in die Huisgenoot skryf) om iets te hoor wat jy ook sou kon sê want dis deel van dieselfe taal maar dis nie uitdrukkings wat natuurlik in jou woordeskat bestaan nie.

My vriendin K het ook nou die dag so iets ouliks gesê, ek dink dit was iets soos 'n mens se seile na elke wind span? Hier is nogals 'n interessante lys met spreekwoorde in Afrikaans.








Friday, 12 October 2012

We will become silhouettes

Dit reen te heerlik hier vandag. Voorheen toe ek gery het en die druppels hoor val het, julle weet, daai sagte storting van water, toe moes ek dink aan my 6-jarige self en die geluk wat daai geluid saam met hom bring.

Toe ons klein was in Genève het my ma ons altyd saamgevat na die karwas toe, by die een spesefieke garage. Ons het in die kar bly sit terwyl die water van self oor die kar gespuit het en die enorme rollers hom skoon gepiets het. Daarna het 'n geheimsinnige wind die Merc drooggeblaas. Daai geluid van in die kar sit en die water hoor, van nie nat word nie as die buitewêreld net deur n wasem van druppels te sien is, is nog steeds vir my wonderlik. En na die tyd het ons altyd 'n Kinder-Überraschungsei gekry en kon die speelding in die middel uitpak en die sjokolade verslind op pad huis toe. Dis nie daai simpel eiers van vandag nie, waar mens twee balletjies in 'n sous aan die een kant het en die speelgoed aan die ander kant. Ne ne. Hierdie was nog in tye van ordentlike sjokolade eiers. Mens wens seker te baie dat goed nie verander nie, en tog verander dinge nie vinnig genoeg nie party keer.

Noudiedag was ek op my eie by die karwas, vir meer as twee ure. My ma hou van 'n skoon kar, so dit moes gedoen word voor sy weer terug by die huis was. Maar hierdie was nie soos Genève nie, hier was geen masjiene wat die kar binne 10 minute skoon gemaak het, alles word hier met mensehand gedoen. Ek was binne in die kar toe die water ons tref, ek toe moes ek weer dink aan vroeer, aan die gemak van die reuke binne in die kar en die reendruppels buite, en aan Kinder sjokolade eiers.




Thursday, 30 August 2012

Untitled (Hidden Track)

Toe ek dit vir jou beskryf in die epos moes ek dit ook kry as prent.
Pragtig vir my, maar seker nie die selfde gevoel vir almal nie.
Daai dag was my voete so seer geloop, dit was die Champs en die Orangerie en les Halles en die Pompidou want as mens daar is moet mens alles sien om later te kan name-drop. En ek's net nog so lank onder 25 om oorals mahala in te kom.


Die ding is groot. Groot soos 'n muur in my kamer. Dalk 'n meter kleiner. Met 'n swart bank om te sit en kyk. Niemand anders was in die kamer nie. Dis beste as mens net alleen kan kyk sonder ander wat hul opinie wil deel en bespreek en besluit of dit nou goed is of nie. Ek weet nie. Vanaand was weer 'n uitstalling. Dis maar alles smaak in die einde.


Ek bedoel, die skulptuur wat op my tafel sit en dag en nag vir my koekeloer is nou nie almal se ding nie. Bietjie weird seker. Maar ek smaak hom met sy blommetjie waar ek vingerafdruke kan sien, waar ek agter my laptop skerm skuil en hom tog nog altyd kan sien.


Maar hierdie perd, mense. Ek wil op sy rug klim en van grys tot bont ry.

Troels Wörsel, Untitled, 2007




Sunday, 29 July 2012

Deurmekaar


Ek besit nogals 'n hele paar digbundels, meestal in Engels. In Duitsland het ek my eie aanmatiging ondersteun deur tweedehandse Penguin digbundels in die U-Bahn te lees. Nie dat ek baie van die gedigte verstaan het nie, dit het eer daaroor te gaan om nie te lyk soos 'n Duister nie, om nie iets in hulle taal, wat tog ook myne is, te lees nie. Duits was oorals, en ek wou wys dat ek iets anders as dit ook kon wees. 

Maar al die gedigte was eeue oud en geskryf deur mans wie se wêrelde nie dieselfde gelyk het soos myne nie. Dit was soos die kunsuitstalling wat ons gister by Fried Contemporary Gallery bygewoon het: ek kon die prag wat ander sien verstaan, maar het self nie gevoel as of dit my besonders geraak het nie. Met kuns wil ek my hande oor die werk laat gly, ek wil elke deel voel en sien en met die macro-zoom-lens van my oog elke besonderheid opneem en nooit vergeet nie. Met gedigte wil ek dieselfde emosionele reaksie hê, ek wil voel hoe woorde oor my lippe vloei en deur my tong gevorm word en hoe klanke by my bly. 

Deesdae hou ek van Danie Marais se woorde, oor wie ek van tevore al geskryf het. Maak seker om na sy digbundel Al is die maan 'n misverstand te kyk. Dalk hou ek van sy gedigte omdat hy 'n paadjie wat vergelykbaar aan my eie is gestap het, en ek op die oomblik moet begin keuses maak oor die Toekoms (met 'n groot 'T' want mens moet altyd bietjie bang bly vir die môre). 


Ma

Ek moes geweet het, Ma,
geweet het ’n mens kan nie wegkom nie,
nooit
van jou eie stem,
van Afrikaans,
of verlange,
of die suburbs,
of niks nie.
Maar ek het probeer.
Ek het gehardloop,
gefokkof,
heen en weer,
Duitsland, rock bottom, en terug;
was elektries van hoop,
vrot van ambisie,
maar die lewe is sekuur
en die hart, Ma, is ‘n sagte teiken.

Ek moet met jou praat, Ma,
want die tyd versand
en alles lek weg na verderf.

Jy moet my vergewe, Ma,
want ek weet nie altyd wat ek doen nie.
Ek is nie goed met my hande of geld of aanvaarding nie.
Ek het jou liefde soms in die gesig geskop –
oor ek die almagtige stilte nooit kon bykom nie,
oor ek in volle beheer van my eie verleentheid moes wees,
oor niks anders binne bereik was nie.
Ek het jou liefde met klippe gegooi, Ma,
maar jy het vir my gekyk soos die see.

Jy weet maar te goed,
hoe ek voor jou betoog en my hande in die lug gooi
soos ‘n ortodokse Jood voor die Klagmuur
elke keer dat ‘n droom in my skoot kom vrek.

Wat gaan ek alles aanrig,
as jou liefde gaan lê?

Soms droom ek
hoe jy jou rug op my draai
om dood te gaan, Ma;
Hoe jy my
soos ‘n sleep, Ma, agter jou aan
skeur. 


Die gedig is nie my eiendom nie. Van sy gedigte is as Engelse vertaling ook hier te lees.  




Friday, 29 June 2012

Gee my jou lyf, jou hart en jou siel

So ja. Ek luister nie juis na Afrikaanse musiek nie.  Dalk 'n bietjie Heuwels as my playlist op skommel (ha ha) is of Chris Chameleon se Ek herhaal jou album waar hy Ingrid Jonker se gedigte sing. Ek onthou nog, dit moes 2009 gewees het, toe ons Oppikoppi toe is en Chris by die boonste bar begin sing het. Net hy met 'n kitaar op 'n kroeg-stoel en 'n klein groepie mense wat na hom geluister het. The Narrow het onder op een van die Maine of Myn of Mayne verhoe gespeel so die meeste mense was onder besig om na Lonely Lonely lyf te skud. Die vorige keer wat ek hom gesien het was jare tevore ook by Koppi toe ek vir die eerste keer Boo gesien het. Ek dog dis 'n absoluut wonderlike freakshow. My vriendin en ek het so die musiek geniet dat die bankie waarop ons balans gehou het gebreek het. Gelukkig was daar 'n stywe crowd wat ons gevang het.

So van lyf-skud gepraat, 'n paar dae gelede luister ek toe nou maar na Jacaranda FM, so bietjie teen my sin want al die ander radiostasies het nie ontvang nie. Een of ander ou het toe heel lekker in Afrikaans gesing, tot ek hoor hy sing "gee my jou lyf, jou hart en jou siel". Klink 'n bietjie soos 'n seks-sekte vir my. Maar ek is bly hulle prioriteite is reg, 'n mens se voorkoms is natuurlik op plek een. "Gee my jou siel" sou dalk ook effens te satanisties wees, ek sien Voldemort en die Death Eaters voor my wat jou siel uit jou suig. Soos 'n menslike suigstokkie. Dalk nie die regte ding om op 'n Sondagoggend op pad kerk toe te luister nie.

Eerlik gesê, ek weet amper niks van Afrikaanse musiek af nie. Rooi rok bokkies, kapteine wat seile span en Liefling is hoe ver ek kan saamsing as dit by traditionele, Huisgenoot-hits kom.

Ek weet dié is nou nie Chris self se lirieke nie, maar ek sal enige dag "klimaat van jou lyf/o meidjie dousag/maar jou oe vlieg wyd/oor die nimmermeerdag" bo "gee my jou lyf" kies.




As julle belang stel, die sanger van Lyf is Albert de Wet, julle kan hier kyk na 'n paar videos wat hulle geneem het gedurend die Jakaranda Friday Live sessie.




Friday, 11 May 2012

Monday, 12 March 2012

Vandag

I (secretly) like drowning and not waving. When it gets this busy at stages in life there is no time to reflect on little issues, on daily problems, on tiny details that could mean more than they do when analysed. Look. It's not like I am super busy. Evidently : I am writing this, and on the list of priorities, blogging is not really number 1. Neither is mixing myself a twisted Mojito with the last limes and Bacardi. I don't know what is most important. I make lists and scratch things out as I go along. And somehow, it always works out, with more or less sleep. But it always works out. 

So I don't really understand when people don't do much. Sure, over the holidays I spend waaaaay too much time watching Gossip Girl and pretending to read 'literature' ( this means I aim to read Austen or something that one 'should have read', but instead I go through old magazines and watch TV). Or after a stressful week one needs to blow off steam and do nothing. But permanently doing nothing, really? 

Anyways. Someone I know's friend started a blog. It's in Afrikaans, if you're keen


Tuesday, 21 February 2012

Bulle

Almal skreeu vir die skerm, bier in die hand. Ek sien net blou truie. Dis my eerste rugby match, en ek's nie juis seker wie teen wie speel nie. My vriende ondersteun die Bulle, met blou truie en toppies en grimering, so ek ondersteun maar saam. In die ou einde verloor hulle. Almal gee 10 minute voor die finale fluitjie op en loop want die Bulle so sleg speel en die verskill nie meer kan inhaal nie. Daar is 'n laaste teenslag maar niks kom daarvan nie. Dis 23.26. ( die tyd, nie die telling nie). Is my bloed net blou as hulle wen?

Die treurige glimlag van teleurstelling word gekontrasteer met mense wat hul fuiste in die lug gooi en mekaar 'n druk gee.
celebration devastation, alles dieselfde tyd.

Maar: almal sal Suid Afrika ondersteun.


________________________________________________________________________

Ek het dié laas jaar geskryf toe die Bulle uit die Curry Cup uit is, dink ek teen minste. Nou sien ek op die nuus, met Riaan, dat die Bulle dié saterdag teen die Sharks of Stormers of iemand speel. Dis al 'n jaar terug, Suid Afrika het toe nie die wêreldbeker in Nieu-Seeland  gewen nie, teen spyte van baie ondersteuning en hoop. Ek weet mens sê dit baie, en dat dit niks met rugby te doen het nie, maar as mens besig is hardloop die tyd net so veel vinniger.




As 'n bonus, vandag is my Stadstapper foto van Pretoria die keuse van die dag by A Postcard a Day from Gauteng. What whaaaat ( baie gangster haha).

Wednesday, 18 January 2012

Remembrance

View flying out of Port Elizabeth.


Toe ek klein was
was ek opgewonde om in die vliegtuig te spring
en 'n wolk van die hemel te steel.
My Tupperware was gepak,
ek wou dit soos spookasem in my bakkie bere
en saamvat na die plek waar ek uiteindelik met skool sou begin
en vir 'n jaar geen vriende sou hê nie
omdat ek nie swart was en tog uit Afrika gekom het.


*The first time I can remember flying was in 1994, when I was six years old and we were moving to Geneva. I packed a Tupperware bowl with a lid so that I could open my window and put a piece of cloud into it, like stealing candy floss from the sky.


Sunday, 1 January 2012

ek stamel ek sterwe*

Die jaar toe ek weg was het ek dit gemis om jou elke oggend te sien en te sê: " Goeie môre bokkie, het jy lekker geslaap?"

Ek het dit gemis om my hande in jou vel te druk en om jou agter jou ore te krap.
Ek het jou gemis en wou na elk een toe stap wat soos jy gelyk het om hulle koppies te vryf.
Ek en jy, ons het saam grootgeword. Jy was altyd net hier, net waar ek jou nodig gehad het.

Jy kom soek my in die oggende, jy lê buite die badkamer se deur en wag, jy kom stamp jou neus teen my been as jy wil kos hê, jy poep soos geen ander nie, jy krap die deur om buite toe te gaan, jy pipi in die huis, jy het my verjaardagpersent geeet toe ek 9 was, jy kom lê onder my bene as ek 7de laan kyk, jy lê in die kombuis altyd in die pad, jy raak omgewonde as ek vir jou 'n kombersie op die vloer in my kamer sit, jy het die meubels se onderdele gekou toe ons in die VSA vir vakansie was, jy hou daarvan om jou kop by die venster uittesteek as ons ry, jy wat vroer jou lyf tussen die diefwering kon deursqueeze, jy wat my neus lek as ek jou optel, jy wat verlore was vir 'n middag, jy wat by die kar wag as jy al die bagasie sien, jy wat die perfekte groote is om 'n drukkie vir te gee, jy as enigste vir wie ek sê dat ek lief is vir jou.


As jy buite lê en slaap kyk ek of jou ribbe beweeg, of jy asem haal, omdat ek altyd bang is dat ek nie daar sal kan wees nie as alles verby is.

En nou was ek daar. Jy kon nie meer loop nie en ek moes jou dra. Toe ons by die veearts instap het ek al geweet maar gehoop jy het net iets slegs geeet. Ek het gedink ons sal somer vinnig weer by die huis wees, ek wou jou nog bad vir die nuwe jaar. Ons was 9 uur daar. 10 uur was ek alleen by die huis, sonder jou, sonder die kans om jou ooit weer te sien en te hoor en aan jou te vat.

Ek sien die heeltyd die klein lyfie voor my, die tong wat uithang, die tannie wat sê ek kan nou vir my "'n nuwe baba gaan kry" en hoe ek jou daar gelos het, alleen, hoe jy nou in 'n vrieskas wag om verbrand te word.

Jou bakkie staan nog hier en jou halsband lê op my tafel en jou kos staan in die kombuis en die bure se honde se ore voel soos joune en ek weet dit is belaglik en almal dink jy was net 'n hond en oud en dit moes gebeur en ek weet dis waar maar jy was myne. Jy was myne. En nou is jy weg en die huis leeg en as Milou alleen oor die vloere stap kan ek jou naels se getippel nog hoor.

Ek mis jou en dis eers een dag dat jy weg is.

Spitzi 15 November 1996 - 31. December 2011.

*


While I was away I missed greeting you in the mornings and saying : “Hello darling, did you sleep well?”

I missed you and wanted to walk up to everyone that looked like you and wanted to touch their faces. 
I missed it to run my hands through your fur and to scratch you behind your ears.
The two of us, we grew up together. You were always here, just when I needed you.   

You look for me in the mornings, you lie in front of the bathroom door waiting for me, you press your nose against my leg when you want to be fed, you fart like no other dog, you scratch the door to go outside, you pee in the house, you ate my birthday present when I turned 9, you lie underneath my legs when I am watching 7de Laan, you are always in the way in the kitchen, you get excited when I fetch a blanket to put in my room for you, you chewed the feet of our couches while we were holidaying in the USA, you like to have the car window open and stretching your face out of the car when we’re driving, you who could squeeze your body through the burglar bars, you who licks my nose when I pick you up, you who were lost for an afternoon, you while you wait anxiously by the car, afraid we’ll leave without you, you who are the perfect size to hug, you who are the only person I ever say “I love you” to.
  
When you are sleeping outside I watch to see if your ribcage is moving because I am always afraid that I won’t be there when everything comes to an end.

And now I was there. You couldn’t walk anymore and I had to carry you. When we walked into the vet’s I knew but I was hoping you had indigestion. I thought we would be out of there in no time; I still wanted to wash you for the New Year. We were there at 9. By 10 I was at home, without you, without the chance to ever see you or hear you or touch you.

I still see your little body, laying there, with your tongue sticking out, the lady holding me and saying that now I could buy myself “a new baby”, how I left you there, alone, how you are stuck in a freezer waiting to be burnt.

Your bowls are still here and your collar is on my table and your food is still in the kitchen and the neighbours' dogs' ears feel like yours and I know this is a bit ridiculous and everyone probably thinks I am exaggerating and thinking that you were just a dog and old and it had to happen and I know it is true but you were mine. You were mine. Now you are gone and the house is empty and when Milou walks across the floor I can still hear your nails scratching on it.

I miss you and it has only been one day that you have gone away from me. 



Sunday, 4 December 2011

See, hier kom ons*

Wilderness


Môre pak ons weer die lang pad aan: my suster, die twee honde, die blou Polo en ek. My koffer is half gepak, die padkos amper ook, die honde se goed staan reg om gelaai te word. So trippie maak my altyd baie opgewonde. Net om bietjie weg te kom, om vir 'n rukkie nie hier te wees nie, nie alles te sien wat mens ken nie, om bietjie mens se oe op ander vlaktes te rus is so lekker.

En Wilderness is altyd lekker.Elkeen doen sy eie ding, elkeen lees sy boek, kyk TV, ons eet in die middae saam buite en drink rustig 'n glasie wyn.. Mens kan net ontspan na 'n jaar van harde werk. In my een boek was daar 'n kort onderhoud met 'n vrou wat in Frankryk in die voedselbedryf werk. Sy het gesê dat dit vir haar belangrik is dat die lewe uitegbalanseer word: na tye van spanning en stress moet mens 'n tydjie hê waar mens net met 'n groot glas rooiwyn op die bank lê en kan ontspan.

So dit is die plan vir die volgende paar weke. Omdat ek daar nie Internet sal hê nie, het ek al 'n paar posts voorgeskryf, dalk werk die ding en hulle post hulself.

Lekker vakansie mense :)


* Sea, here we come

Tomorrow we are driving the long way down to the coast - my sister, our two dogs, the blue Polo and I. My bag is half packed, the snacks for the road as well, die dogs' luggage is ready to be loaded in the car. A trip like this always excites me. Just to get away for a bit, to not be here for a while, to not see everything one knows, to rest one's eyes on different landscapes is so wonderful.

And Wilderness is always great. Everyone does their own thing, reading books or watching TV. For lunchtime we sit outside and drink a glass of wine. One can relax after a busy year. In one of my French books, a lady that works for some pastry-specialist said that it is important for her that her life follows certain rhythms: if it is stressful and hectic at times, one needs a moment to relax on the couch with a big glass of red wine.

So that is the plan for the next few weeks. Because I won't have Internet there, I pre-wrote some posts, lets see if the whole scheduling of it works out.

Enjoy your holidays :)