Dit is altyd tyd om te gaan, om jou tas met kreukelvrye hemde en iets vir die aand en broeke wat beskerm teen muggies en multi-tasking skoene te pak. En mens moenie vergeet van die boekrak vol boeke en notas wat jy probeer in 'n ander sak te stop teen spyte van die iPad en Google. Die internet weet tóg nie alles nie, veral as dit kom by bokkies en blare.
Jy los altyd vir ons die huis so voorberei as of 'n atoombomb Pretoria sou tref en ons jare sou moes oorlef. Net met smullekker opsies, dis niks blikspaghetti of bone op roosterbrood by ons nie. So ook die versoek dat ek 'n sjokoladekoek moet bak.
Ek weet nie hoe dit by ander mense se families is nie, maar die vrouens in myne is groot op kosmaak. My Duitse ouma het altyd Späztle gemaak met Rouladen en as nagereg was daar een of ander enorme koek. My ander ouma is nie juis so dol daaroor om ure in die kombuis te staan nie, maar soms maak sy 'n hoendertjie, of bederf ons met beskuit en heuning wat sy iewers by 'n padstal gekoop het. Sy is ook die een om te bel as jy blatjang of kweperjellie of enige voedselpreservering wil doen.
Maar die wenner bly my ma. Toe ons klein was het sy altyd baie moeite gedoen met onthale vir al die diplomate. Dit was net tafels gelaai vol pragtige bakke met happies of verskillende koeke of antipasti. As kind het ek die pienk salm-mousse in visvorm of die koue beetsop nie so waardeer nie. Maar vir ons verjaardae was daar altyd wonderlike koeke om na die speletjies (nou die drankies) te geniet, of dit nou 'n kat met 'n snor uit liquorice is toe ek vyf geword het, of laas jaar se drie-lae-sjokolade-mousse-koek.
Sonder my ma sou ons nooit die twee kante van 'n ordentlike fees leer ken het nie. Daar is die ure van voorbereiding in die kombuis, wat soms dae voor die tyd begin. Dan is daar die opskepbakke uit pewter wat sy uit Mexiko gebring het, of dié met die bont groente aan die kant, of selfs die Rosenthal porselein. En moenie van die tafeldoeke en die bordjies en die koffiekoppies (wat my neef gesê het mens nie mooi kan vashou nie) vergeet nie. By 'n ordentlike onthaal moet mens altyd 'n bietjie bang wees om die breekgoed nie te breek nie.
Die kos is natuurlik altyd die hoogtepunt. As almal smul en gesels weet jy al die werk voor die tyd, en al die skottelgoed wat nog vir jou wag, was die moeite werd.
My ma het ons geleer om nie bang te wees vir kos nie, om altyd nuwe resepte te probeer en om daai moeite wat agter elke pragtige dis gedoen word te waardeer. En dit is iets wat ek altyd met my sal dra.
No comments:
Post a Comment