Tussen Stasies
Tannie Loretta klim in. Sy het twee koffertjies met wiele,
die res van haar pakkasie is net sakkies en tassies en kussings en komberse. Sy
dra ‘n ou army-groen t-hemp en ‘n pers broek waarin sy sommer ook kan slaap. Tussen die rol van borste en die rol van
‘n magie sit nog ‘n rolletjie. Haar gesig is kwaai met mondhoeke wat lyk as of
hulle altyd vir haar ken, en nie vir
haar wange groet nie. Sy het klein ogies wat agter ‘n ou bril skuil, wit hare
wat bruin gekleur is en ‘n sakkie om haar nek vir haar selfoon.
Sy sê vir my ma
dat sy haar maar ‘Loretta’ kan noem, maar omdat ek jonk is mag ek ‘Tannie Lorie’
vir haar sê. Let wel, ek noem nie eers my tannie ‘tannie’ nie. Ek is geleer van
jy/jou en u/Mevrou, nie van tannies en ooms en mense op die mond soen nie. Dus
is dit vir my ‘n hengse taak om vir wat ek dink 20 ure gaan wees nie ‘jy’ of
‘tannie’ te sê nie.
Dis 1 uur. Die
trein behoort binne 15 minute uit Johannesburg stasie te vertrek. Almal het
gesê ons is mal om die trein te vat. Hulle het vertel van mense wat oorval is
en wat ure langer gevat het, as wat op
die kaartjies aangeteken was. Hulle het ons gevra hoekom ons so iets sou wou
doen, die trein is moes net vir die “anderskleuriges”, soos my ouma sou sê, of
vir die wat arm is. Dalk beteken ‘anderskleurig’ en ‘arm’ maar dieselfde ding. Hulle sê die Shosholoza Meyl is nie vir mense soos ons wat grade het en ander
tale praat en moes eintlik van OR Tambo af
vertrek.
Nee, die Shosholoza Meyl is vir mense wat te baie
bagasie het vir die bus. Dis vir die twee ouer kleurling dames wat in een hoek
van Park stasie op ‘n bank sit en ‘n wyntjie uit ‘n plastiek beker drink terwyl
hulle tussen berge kussings wag. Dis vir die man in die straatskoonmakeruniform
wat op ‘n koffer sit en met sy klein dogtertjie speel. Dit is vir die ou mense
wie se pensioen nie genoeg is nie, wie se kinders nie omgee en wie se lywe nie
meer werk nie. Dit is vir armblanke oumas en kleinkinders in goedkoop
sweetpakke waar die ma haar twee dogtertjies met die woorde “soet wees” groet.
Ja nee, die trein
is nie vir mense wat ‘n Gau- voor die woord moet sit nie.
En tog trotseer
ons die idee van wie waar hoort, van wie wat mag doen, van ‘n apartheid wat nou
tussen klas veel meer as tussen ras is.
Tannie Loretta
vertel hoe sy 49 jaar terug haar man in die stad van goud leer ken het, hoe hy
vir haar na die Baai toe getrek het, hoe hy nou onlangs dood is. Sy lyk soos
iemand wat te baie al swaargekry het om aan die vinnige veranderinge van die
moderne lewe aantepas. Gelukkig is dit net ons drie in die kompartement wat
eintlik gemaak is vir ses. Tannie Loretta en haar pakasie is versprei op die
bank wat in ryrigting kyk, ons twee aan die ander kant. As dit aand word klap
ons die beddens af en slaap bo terwyl sy onder skuins lê.
13.20 trek ons
weg. Ons ry deur die ooste van Johannesburg, deur Denver en Driehoek en
Germiston. Dit is net vullis en slegte graffiti op die spore, met plakkerskampe
en industriele areas wat mekaar afwissel as mens uit die venster kyk. Ek is
baie opgewonde, na ‘n halwe jaar van onsekerheid en verwerping het ek ‘n
avontuur soos dié nodig.
Ons stop op
Vereeniging. Nettie klim in en moet eintlik in ons kompartement sit. Sy is aan
die verkeerde kant van 60, met ‘n lyfie wat lyk as of hy dringend kos nodig het
en hare wat al te baie keer deur kleur en krullers gemartel is. Sy sien daar is
geen plek vir haar by ons nie en verdwyn. Later vind ons uit sy is in ‘n coupé langs ons, lekker op haar eie.
In ons
kompartement kuier ons verder. Die padkos is eerste uitgepak en wag op die
tafeltjie by die venster vandat ons op Parkstasie gesit het en gewag het om
wegtetrek. Dis mos maar hoe Suid Afrikaners is: ons het ons padkos
nodig, maak nie saak hoe ver ons op pad is nie. Toe my vriendin Karen die min
goedjies in my mandjie by die supermark sien was sy skoon bekommerd, sy het
gedink dit sal nooit genoeg wees vir 20 ure op ‘n trein nie. Minwetend sou sy nog reg wees ook.
Van iewers af organiseer ons vir elkeen ‘n koppie tee. Ons
pak choc-chip koekies en beskuit uit wat my ma gebak het. Tannie Loretta soek
dadelik die resep, maar my ma kan hom nie onthou nie. Ons belowe om hom met die
pos te stuur. Die gesprek wissel van hoe mens pruimkonfyt lekker by ‘n
sjokoladekoek kan voeg na hoe Tannie Loretta- hulle alles verloor het weens die
sanksies. Hul het hul plaas vir “’n appel en ‘n ui” verkoop en op ‘n kleinhoewe
gaan bly. Nou, net na haar man se dood, het die eienaars van die erf vir haar
kennis gegee, sommer so oor die draadmuur.
My ma en ek gaan kry aandete in die eetsalon net voordat ons
Kroonstad tref. Ons deel ‘n beeskerrie met geel rys terwyl die landskap buite
donker word. ‘n Ouer engelsman en sy seun sit links van ons. Die man maak as of
hy vreeslik belangrik is en is ongeskik met almal. Dit lyk nie of hy en sy seun
‘n goeie verhouding het nie, ek sou nie geraai het hulle is familie as een van
die dames wat op die trein werk dit nie sou gesê het nie.
Toe ons terugkom na ons kompartement toe, is ons beddens
gemaak en almal is reg vir die kooi. Ons sien uit daarna om rustig op te staan,
te stort en teen 9 uur die volgende oggend in Port Elizabeth se stasie te wees.
Ek sluimer in die donkerte van die kompartement in, maar ek
hoor hoe ons net voor middernag in Bloemfontein stop en mense inklim. Ek dink nog dat ek nou rustig sal kan slaap
omdat daar geen groot stasies meer is nie en die trein soos ‘n reusagtige wieg
voel.
Toe slaan die horlosie een uur en die nagmerrie begin. Eers
skreeu ‘n baba sonder einde, met ‘n ander dogterjie wat “Heidi” sing en ‘n man
wat hardop met sy vrou baklei. Dit klink as of ‘n hele kindergarten deur die
gang hardloop en speel terwyl die personeel op die trein ook vir mekaar skreeu.
Ons lê al drie wakker.
Ek kom agter die trein beweeg nie en ons hoor die woorde
“big problems” buite ons deur. Tannie Loretta sê haar slaap is skoon uit haar
uit. ‘n Half-uur later snork sy so hard dat ek en my ma soos tiener dogters in
ons beddens lê en giggel: mens kan net niks anders doen nie omdat dit voel as
of die hele dekselse wêreld vir jou uit die
slaap probeer hou.
Ons verneem dat ons net 20 minute buite Bloemfontein is. Dit
is nou 3 uur die oggend en mense toyi-toyi in die eetsaal. Niemand weet wat
aangaan nie, die trein staan-staan- staan net. Iemand sê die lokomotief het
gebreek, dat busse sal kom om ons te
haal. Tannie Loretta steun dat alles nou
“oppie koffie” is. Ons besluit maar om nou te gaan stort, want om so vuilerig
nog ure in ‘n bus te sit klink soos hel. In elk geval kan ons nie slaap nie en
dit lyk nie as of enige iets gebeur nie. Gelukkig werk die krag op die trein nog en
daar is warm water. Tot nou dink ek steeds ons gaan maar net ‘n paar uur laat
wees, dat alles nie so erg is nie: soos met meeste goed in ons land moet mens
maar net ‘n bietjie geduld hê en dan werk alles tog uit.
Die son begin stadig opkom oor die Vrystaatse vlaktes. ‘n Nors
mannetjie kom sê vir ons dat ons oor 20 minute gehaal sal word, ons moet ons goedjies pak en
regstaan vir die busse. ‘n Man begin hardop preek oor hoe hy ‘n getuie is van
God en hoe Suid Afrika se tyd gekom het. Na ‘n uur is daar geen busse in sig en
God lyk ook nie as of hy baie omgee vir treine wat gaan staan nie . Die gepreek
raak net te erg, so ek gaan vra die man
of hy nie kan ophou nie, of ten minste sy deur kan toemaak, sodat almal
nie deur hom gepla word nie. Hy sê almal moet hom hoor, maar na die nag wat ons
gehad het is niemand lus nie. Die baba
begin weer te huil. Ook dit nog.
‘n
Ander trein kom stop langs ons. Niks gebeur nie. Die trein ry weer weg. Ons
hoor later dat die helfte van die personeel op daardie trein terug is
Johannesburg toe. Ons sit verder en vries, die wind blaas sterk buite die
trein.
Net
na 10 uur is ons terug in Bloemfontein. Eintlik moes ons nou al in P.E.
afgeklim het. Al die mense in derde klas, wat net ‘n sitplek en nie ‘n hele bed
op die trein kon bekostig nie, peul uit die trein met hul kinders en bagasie. Vir ons is gesê dat ons op die trein kan bly,
maar ek is onder die indruk dat die mense dit nie weet nie, hulle word na die
busse toe gestuur. Dit is een hengse deurmekaar spul, vrouens sukkel om swart
sakke en klein kindertjies bymekaar te hou.
Daar is een klein seuntjie wat ‘n koffer dra soos ‘n groot man. Ek
wonder waar hierdie kind gaan opeindig, so belas deur ander se goed.
‘n
Uur later is ons weer op pad. Van vyfhonderd mense is daar net vyftig oor. Die
personeel is op hul derde skof sonder slaap. Dit voel as of ons nooit die
Vrystaat sal verlaat nie, asof ons gevange is hier. Die ironie. ‘n Sterk wind
fluit buite, ons sit toegedraai in komberse en peusel. Uiteindelik ry ons oor
die Gariep en in die Noord Kaap in. Dit voel darem nou asof ons beweeg.
Tannie
Loretta vertel hoe sy in Junie verloof geraak het en in Augustus getroud is,
destyds. Ons ry deur lang oomblikke van
swart, die tonnels het begin. Die kompartement het al klaar die reuk van mense
wat te lank saam in ‘n klein spasie is, maar nou raak dit erger: Tannie Loretta
se chili-sous het uitgeloop en sy wil dit steeds nie weggooi nie. Alles ryk nou
net te sterk. Ons ruk die vensters oop en gaan ontsnap na die eetsalon toe vir ‘n
teetjie.
Daar
ontmoet ons ‘n ouer paartjie wat na die see toe trek. Hulle vertel hoe twee
ouer dames twee klein hondjies in ‘n koelsak saamsmokkel. Almal deel stories,
mens raak maar gesellig so as mens deur dieselfde ding gaan en nie weet wanneer
mens gaan aankom. Die nors man met sy seun kry weer ‘n plek net langs ons. Hy
is vreeslik onvriendelik met die personeel, en blaf bevele as of hy die baas
is. Almal is moeg, almal wil by die kus aankom, almal is al baie langer op die
trein as wat hulle gedink het hulle sal
wees. Maar dit blyk nie asof Meneer Gifappel dit kan verstaan nie.
Ons
gaan maar terug na ons kompartement toe. Die passasiere kuier so oor en weer by
mekaar. In die donkerte sien ons af en
toe ‘n eensame lig, dit voel as of ons deel is van die Neverending Story. Hier kom verskillende wêrelde bymekaar, mense
wat nooit mekaar se geselskap sou gesoek het nie, deel stories terwyl die trein
stadig soos ‘n slang sy pad deur die land kry. Soos wat die verkoper vir my ma
by Pretoria stasie gesê het toe sy die kaartjies gaan haal het: mens moet nie
die trein vat as mens haastig is nie. Dalk was dit die sjarme: om rustig ‘n pad
te vat wat net in een rigting gaan. ‘n Trein kan moes nie ‘n verkeerde draai
maak nie. Ons, in teendeel, kan.
Tannie
Loretta sit tussen al haar pakkies. Sy is reg om af te klim, maar is bekommerd
oor hoe sy alles van die trein gaan kry.
Ook sy het al haar komberse weggepak en
nou kruip die koue weer in ons kompartement in. Ek kry vir elk ‘n kombers wat
saamgevrommel bo op die een kooi lê. Mens
hoor net die geluide van wiele op spore. Daar is niks om na te kyk in die
donkerte nie, daar is niks meer om te eet nie, die gesels het opgedroog. Almal wil nou net aankom.
Uiteindelik
raak die liggies meer en almal skuif hul bagasie in die gang in. Ons ry-ry-ry
deur Port Elizabeth, ons is hier maar kom net nie aan nie. Na ‘n hele ruk gaan
staan die trein eers. Mense wag op die peron, hulle haal hul vriende en
familie. Almal is gedaan. Ons help vir Tannie Loretta om haar goedjies van die
trein af te kry, gelukkig is haar mense daar. Sy gee vir ons elk ‘n stywe druk
en verdwyn.
Na
alles was sy tog reg toe sy nog in Johannesburg vir ons gesê het dat “mens nie
oorsee hoef te gaan om te travel
nie”. Nee, al wat mens moet doen is in die trein klim.
No comments:
Post a Comment