Wednesday 26 August 2015

Met jou klere aan

Skooltyd moes ons 'n internskap doen.
Vir 'n week was ek by Protea Boekhuis in Hatfield. In die oggende het ek met die bus stad toe gery, my Discman in my sak en die CD van die dag gereed vir die uur wat ons deur Pretoria sou ry. By die werk het ek nie juis veel gedoen nie. Ek het in 'n hoekie gesit en manuskripte gelees, meer kan ek nie onthou nie.

Een van die vrouens wat daar gewerk het het dié sin teen haar muur vasgeplak, en ek sal dit nooit vergeet nie: vir julle skryf ek susters, wat in die liefde geval het, wat gebreek het soos borde.

Nou, meer as 10 jaar later, kry ek die hele gedig van Sarina Dönges aanlyn:


My arme susters

vir julle skryf ek, susters,
wat in die liefde geval het
wat gebreek het soos borde
of dunner, soos Venesiese glas

julle wat die snykant
van nagdinge ken

aan julle deure sal kom klop
die woordgeleerdes en fariseërs
uitgeswel soos somervrugte, immuun
teen die steekvlieë van die sonde.

julle wat gesmul het
aan gesteelde pere

sal snags in Mosesmandjies lê
op 'n meer van Valiums
die lakens sal julle vasrank
soos plante 'n vermoeide huis.

julle wie se minnaars wortelskiet
langs hulle geil vrouens,

julle sal opeens weet, liewe susters,
(julle lywe uitgeskud soos meelsakke)
dat julle bloot 'n bestanddeel was
nooit met liefde gesuurdeeg nie;

julle was peuselkos
aptytwekkers voor 'n maaltyd

ag, my arme susters.

1 comment:

  1. my jinne dan is dit lekker om te weet as iemand dit waardeer...sarina donges

    ReplyDelete