Saturday 13 October 2012

Op die voetpad, o bokkie,

In die Kaap het ons die een aand voor die fees in Darling maar vir Langstraat aangedurf om met my niggie 'n burger te eet en bietjie die naglewe te geniet voor 'n mens sonder storte vir twee dae moet oorleef (wat toe nie waar was nie siende dat Daisies haardroers en straighteners voorsien). Ons het in 'n stegie langs die hoofpad parkeer omdat dit heel veilig gelyk het en daar 'n karwag uit die Kongo was.

Toe ons na die aand se avonture weer by die kar kom, betrap ons 'n baie maer jong man wat soos 'n sletterige dame aangetrek was (maar hy het die bene vir so kort rokkie gehad as ons nou moet eerlik wees) en wat besig was om hastig sy klere in een van daai gate in die straat met die metal deksels te versteek, julle weet, daai wat na die rioolpype lei of so iets. Hy't vir ons verduidelik "dis my cupboard dié, anders jaag die polisie my", en met sy vingers 'n kruis oor die deksel gemaak nadat hy alles daar ingeprop het om dit te beskerm.

Toe ons uitry het hy vir "'n paar bronsies" gevra en ons gehelp om nie in die ander karre vas te ry nie, donder maar die mense in die Kaap ken van parallel parkeer en in klein gate indruk. Is ek nie bly vir parkeerings wat groot genoeg is vir ossewa's (of die gunsteling kar van die ryk voorstedelik familie, 'n doublekajuit/ Land Rover/BMW X5) soos die in Menlyn.

Dalk is dit taaldiskriminasie of iets anders wat negatief klink, maar dis lekker om te luister as kleurling mense uit die Kaap praat, omdat hulle goed anders sê as ons in die Transvaal. Of eer, omdat hulle nie elke tweede woord met 'n engelse woord vervang soos ons nie. In Beaufort Wes het ons die enigste kroeg wat oop was ingedurf, dit was nie juis opwindend nie, maar na 'n rukkie het 'n ouer dame, wat nogals 'n dop te veel ingehad het, by ons kom staan en gesels. Wel, eer met die twee jong mans wat met my was, ek was nie van belang vir haar nie. Na die tyd het ek gevra of hulle kon verstaan wat sy gesê het, maar nie een van ons het heeltemal gevang wat sy vir ons wou sê nie, behalwe dat "daai moffie" vir een van my twee vriende besig was om ogies te maak. Maar dit was nog steeds lekker om te hoor dat ons dieselfde taal praat en tog verskillende dialekte (?) as moedertaal sien.

Een van die petroljoggies het ook gesê een of ander iets "is bes", ek kan nou nie onthou wat nie. Dit was net koel (haha, ek voel soos iemand wat in die Huisgenoot skryf) om iets te hoor wat jy ook sou kon sê want dis deel van dieselfe taal maar dis nie uitdrukkings wat natuurlik in jou woordeskat bestaan nie.

My vriendin K het ook nou die dag so iets ouliks gesê, ek dink dit was iets soos 'n mens se seile na elke wind span? Hier is nogals 'n interessante lys met spreekwoorde in Afrikaans.








2 comments:

  1. Transvaal se mense lieg vir hulself as hulle sê hulle is of praat afrikaans

    ReplyDelete
  2. Haha, ek sal nie weet nie, ek het dit net by my ma geleer wat vir die Cheetahs skreeu.

    ReplyDelete