Friday 29 June 2012

Gee my jou lyf, jou hart en jou siel

So ja. Ek luister nie juis na Afrikaanse musiek nie.  Dalk 'n bietjie Heuwels as my playlist op skommel (ha ha) is of Chris Chameleon se Ek herhaal jou album waar hy Ingrid Jonker se gedigte sing. Ek onthou nog, dit moes 2009 gewees het, toe ons Oppikoppi toe is en Chris by die boonste bar begin sing het. Net hy met 'n kitaar op 'n kroeg-stoel en 'n klein groepie mense wat na hom geluister het. The Narrow het onder op een van die Maine of Myn of Mayne verhoe gespeel so die meeste mense was onder besig om na Lonely Lonely lyf te skud. Die vorige keer wat ek hom gesien het was jare tevore ook by Koppi toe ek vir die eerste keer Boo gesien het. Ek dog dis 'n absoluut wonderlike freakshow. My vriendin en ek het so die musiek geniet dat die bankie waarop ons balans gehou het gebreek het. Gelukkig was daar 'n stywe crowd wat ons gevang het.

So van lyf-skud gepraat, 'n paar dae gelede luister ek toe nou maar na Jacaranda FM, so bietjie teen my sin want al die ander radiostasies het nie ontvang nie. Een of ander ou het toe heel lekker in Afrikaans gesing, tot ek hoor hy sing "gee my jou lyf, jou hart en jou siel". Klink 'n bietjie soos 'n seks-sekte vir my. Maar ek is bly hulle prioriteite is reg, 'n mens se voorkoms is natuurlik op plek een. "Gee my jou siel" sou dalk ook effens te satanisties wees, ek sien Voldemort en die Death Eaters voor my wat jou siel uit jou suig. Soos 'n menslike suigstokkie. Dalk nie die regte ding om op 'n Sondagoggend op pad kerk toe te luister nie.

Eerlik gesê, ek weet amper niks van Afrikaanse musiek af nie. Rooi rok bokkies, kapteine wat seile span en Liefling is hoe ver ek kan saamsing as dit by traditionele, Huisgenoot-hits kom.

Ek weet dié is nou nie Chris self se lirieke nie, maar ek sal enige dag "klimaat van jou lyf/o meidjie dousag/maar jou oe vlieg wyd/oor die nimmermeerdag" bo "gee my jou lyf" kies.




As julle belang stel, die sanger van Lyf is Albert de Wet, julle kan hier kyk na 'n paar videos wat hulle geneem het gedurend die Jakaranda Friday Live sessie.




No comments:

Post a Comment