Friday 30 September 2011

See toe

Elke desember verlaat die hele Gauteng die beknopte stede en trek af strand toe. Omdat my ouma in Jeffreys Baai bly, het ons altyd by haar gaan afsak vir 'n paar weke oor kersfees en nuwe jaar. Ek onthou hoe my suster en ek altyd gespeel het wie eerste die see kan sien. En Dirkies gesuig het. En agter op die bank oor mekaar geslaap het. En baklei het oor die musiek (ons doen dit steeds).

Ek weet nie hoe my ma die hele pad altyd alleen gery het nie. My been raak na 'n uur al moeg vir die vinnig-stadig aspek van tussen lorries gevange wees en kanse vat om hulle verby te steek. Maar ek moet sê ek hou van die lang pad , ek hou van hoe mens net deur die land ry en ry en ry. Ek hou van die lig in die Vrystaat en  die mense langs die N1 wat bordijies ophou met plekke waar hulle wil gaan. Ek hou van hoe oneindig die hele reis is, hoe die straat deur die land slinger. Ek hou van hoe almal by Engen en Caltex bymekaar kom en dan 'n Wimpy koffietjie gaan haal en 'n vinige piepie vang voor mens weer terug in die kar klim. Ek hou van die avontuur van op die pad wees. Dalk hou ek die meeste van die feit dat mens altyd sê die lewe is soos 'n pad en  mens moet die reis geniet en nie aan 'n destinasie dink nie. Maar as mens afry see toe is dit presies wat mens doen: jy is op die spoor in 'n spesefieke rigting in. Jy weet waarheen jy gaan. Jy kies of jy links wil draai oor Graaf Reinet of eer reguitaan oor Beaufort Wes wil ry. Jy kies waar jy wil stop of of jy maar nog 'n uur sal deurdruk.

So môre pak ons die ding aan.
Dit gaan heerlik wees, sê ek vir julle.
Lekker vakansie tjommas.



.

No comments:

Post a Comment