ondergronds het ’n rif geskuif
die aarde struikel
verward swik die son
toe sy asem hom verlaat het in die nag
het die sterre geduisel
want alles is verstrengel
wurgend aan sy dood
sy dood en die dood alleen
ineens is alles droef
asof ons in ’n groot skadu staan
asof glas deur ons breek
asof klip in ons splinter
asof ons gedagtes in fluisterende wanhopige groepe rondvlug
soos assegaaie in die grond bly vassteek
trillend
in Qunu weier die beeste vanoggend om uit die kraal te gaan
by Lusikisiki lê die visse na aan die oppervlakte
in Mvezo maak die korhane geen geluid nie
die gedagte aan Mandela laat ons binnekante knak
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
ons kan selfs nie die mond oopmaak nie
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
om te begin praat oor sy dood om te praat oor sy dade
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
oor sy bloed wat pyl soos ’n luiperd na geregtigheid
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
om te vertel van sy werke, sy sagte ongelooflike krag
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
die lieflike nate van sy blommende vergewende kopbeen
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
die stormram van sy tong
wat toekomste tot ’n verbonde kern wring
ons kan nie reg laat geskied aan Ons Grote
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
ons wil dit nie sien nie
in die voetpaaie, op die sypaadjies, in busse langs die
paaie
bondel ons swyend bymekaar, ons die gewones
ons sprinkel ons trane oor hom
ons besprinkel die erflating
van die Vreeslose Kryger wat ons eenmaal regeer het
ons besprinkel die lyk wat gewas moet word
ons besprinkel die geopende bloed van Mandela
ons gewones was hom nie met water nie maar met liedere
met droefheid neem ons sy liggaam
ons was dit, ons bad dit
met hande wat hom liefhet, raak ons aan sy dade
ons gee hom aan, van hand tot hand
hoog bokant ons koppe
die man wat ons van onsself gered het
o singende bloed van die seun van uNosekeni
o palms van Mvezo vol sterre en reën aan die oewers
o arms van Qunu wat ’n land se diepste wonde omhels
die Groot Aanmekaarbinder
niemand se strottehoof kan Mandela se lied end-uit sing nie
niemand ontglans ooit ons Groot Saambinder vir ons nie
niemand oortref hom in morele gesag nie
geen leier is nog ooit só deur sy mense lief gehad nie
hy wat ons beste gesig was
hy wat ons aan onsself teruggegee het
die beliggaming van die wêreld se smagting
na iemand wat omgee
wie se dade onbeskaamd goedheid wou bring
geliefde Mandela, bring seën op ons, jou kinders
laat jou lewe sy vingerafdruk op ons almal laat
dit sal lank duur voordat ons ooit weer ’n mens so edel
iemand so genesend en koppig mooi
so taai van inbors so streng insluitend van beginsel
so elegant en oorrompelend van hart in ons sterflike arms
kan hou
– Antjie Krog
(Gebaseer op die weeklaag geskryf vir Moshoeshoe 1,
“LITHOKHOKISO tsa Moshoeshoe le tse ling” deur David Cranmer Theko Bereng.)