Onder eikebome en jakarandas wag ek vir klas om te begin. Die lewe is groen om my terwyl die bankie om die bome slinger, herwonne plastiek deurgesit deur jare se swaar boude. Hout hou langer, ek sien dit sommer.
Die meisie links met moë oë wie se lippe beweeg, sonder worde om laaste brokkies te onthou. Sy lyk tipies: jeans, 'n grys t-hempie, 'n grys truitjie, swart chucks. 'n Blou rugsak langs haar, haar hare vaal en in 'n ponystert vasgekam. Sy dui met handbewegings in die lug haar kennis aan, dalk sou 'n dowe persoon beter verstaan. Ek sien haar lewe voor my : dis 'n lewe vol leesstof en opdragte maar sonder enige ervarings wat nie uit boeke kom nie. Ek skat sy sien die wereld nie groter as Pretoria nie.
Regs sit ook 'n meisie, met skinny jeans, 'n oker geel toppie en bruin truitjie. Ek verstaan nie hoekom altwee 'n trui aanhet nie, dit is 30 grade buite en hulle hoef alby nie 'n groot lyf onder klere te versteek nie.
Die meisie het brëe bo-bene, dra sandale en kort swart hare wat sy net-net in 'n miniatuur bolla agter kon vasknyp. Haar naels in skoon en haar hand permanent aan haar selfoon vasgeplak. Dit blyk sy wag vir iemand wat nie bestaan nie.
Verder links sit drie werkers, dit is middagete tyd en hulle pak toebroodjies en coke uit. Ek wonder hoe die oudste man dit gaan eet, hy het geen tande meer nie. Dalk suig hy die brood tot dit soos babakos lyk?
'n Tannie, om die sestig, staan drie verdiepings oor ons en beloer die skouspel nes ek. Sy geniet haar sigaret op die wenteltrap. Met 'n oorgroot pienk en wit hemp en en 'n witbroek lyk sy soos die dames wat sondae met hoedens uit die NG kerk peul. Haar gewig is toepassend aan haar ouderdom, haar gesig beoordeel almal onder haar : God vat 'n lunchbreak.
Oorkant my staan 'n wit bakkie in die skadu van die Ou Lettere gebou geparkeer. Die man slaap, sy kaal voete hang uit die venster. Ek is lus om hulle te kielie. Skielik skrik hy wakker en strompel uit die kar. Hy lyk soos iemand wat terug wou gaan Witbank toe na 'n harde dag by die werk en sy pad verloor het. Rooi-bruin vellies smelt in die Afrika aarde in, sy blou werksbroek en blou werkshemp het al te baie die wasmasjien leer ken. Die broek is te kort, die hemp te groot. Sy wit-geel hare staan soos bossies in elke rigting, die Einstein van die platteland get aangekom. Die man se beloning na die middagslapie : 'n bottel guava mengsel, just add water ( 4:1).
En ek in die middel van dié middag, bruin leer skoene, 'n rokkie wat val en 'n manlike leerband om my arm om nie soos almal wat by Jay Jay's koop te lyk nie. My linker oog is rooi soos die robot. Hy waarsku almal om nie te naby te kom nie. Pink eye sou bang wees vir hierdie vlam. Dalk ontplof hy binnekort, wie weet.
Mense stap verby, future-engineers wat bang is vir meisies, girls met kort broekies, koshuis meisies, 'n meisie met boude wat enorm lyk vir haar klein beentjies. Blinde mense wat gelei word, sienende mense wat leiding kort. Almal lyk anders. Almal lyk eensaam.
Moenie bekommerd wees nie, mense. Ek kyk vir julle.
Nee, ek sien julle.
Jy moet meer van jou observasies hier orkestreer.
ReplyDelete