Sunday 29 July 2012

Deurmekaar


Ek besit nogals 'n hele paar digbundels, meestal in Engels. In Duitsland het ek my eie aanmatiging ondersteun deur tweedehandse Penguin digbundels in die U-Bahn te lees. Nie dat ek baie van die gedigte verstaan het nie, dit het eer daaroor te gaan om nie te lyk soos 'n Duister nie, om nie iets in hulle taal, wat tog ook myne is, te lees nie. Duits was oorals, en ek wou wys dat ek iets anders as dit ook kon wees. 

Maar al die gedigte was eeue oud en geskryf deur mans wie se wêrelde nie dieselfde gelyk het soos myne nie. Dit was soos die kunsuitstalling wat ons gister by Fried Contemporary Gallery bygewoon het: ek kon die prag wat ander sien verstaan, maar het self nie gevoel as of dit my besonders geraak het nie. Met kuns wil ek my hande oor die werk laat gly, ek wil elke deel voel en sien en met die macro-zoom-lens van my oog elke besonderheid opneem en nooit vergeet nie. Met gedigte wil ek dieselfde emosionele reaksie hê, ek wil voel hoe woorde oor my lippe vloei en deur my tong gevorm word en hoe klanke by my bly. 

Deesdae hou ek van Danie Marais se woorde, oor wie ek van tevore al geskryf het. Maak seker om na sy digbundel Al is die maan 'n misverstand te kyk. Dalk hou ek van sy gedigte omdat hy 'n paadjie wat vergelykbaar aan my eie is gestap het, en ek op die oomblik moet begin keuses maak oor die Toekoms (met 'n groot 'T' want mens moet altyd bietjie bang bly vir die môre). 


Ma

Ek moes geweet het, Ma,
geweet het ’n mens kan nie wegkom nie,
nooit
van jou eie stem,
van Afrikaans,
of verlange,
of die suburbs,
of niks nie.
Maar ek het probeer.
Ek het gehardloop,
gefokkof,
heen en weer,
Duitsland, rock bottom, en terug;
was elektries van hoop,
vrot van ambisie,
maar die lewe is sekuur
en die hart, Ma, is ‘n sagte teiken.

Ek moet met jou praat, Ma,
want die tyd versand
en alles lek weg na verderf.

Jy moet my vergewe, Ma,
want ek weet nie altyd wat ek doen nie.
Ek is nie goed met my hande of geld of aanvaarding nie.
Ek het jou liefde soms in die gesig geskop –
oor ek die almagtige stilte nooit kon bykom nie,
oor ek in volle beheer van my eie verleentheid moes wees,
oor niks anders binne bereik was nie.
Ek het jou liefde met klippe gegooi, Ma,
maar jy het vir my gekyk soos die see.

Jy weet maar te goed,
hoe ek voor jou betoog en my hande in die lug gooi
soos ‘n ortodokse Jood voor die Klagmuur
elke keer dat ‘n droom in my skoot kom vrek.

Wat gaan ek alles aanrig,
as jou liefde gaan lê?

Soms droom ek
hoe jy jou rug op my draai
om dood te gaan, Ma;
Hoe jy my
soos ‘n sleep, Ma, agter jou aan
skeur. 


Die gedig is nie my eiendom nie. Van sy gedigte is as Engelse vertaling ook hier te lees.  




No comments:

Post a Comment