Wednesday, 9 November 2011

Koekeloer

* Jammer ek kry dit net nie reg om 'n dit (:) op die (e) te sit nie. Simpel Alt+ wil nie werk nie.

Party keer is ek moeg van sit en moeg om na my skootrekenaar se skerm te kyk en moeg om te maak as of ek gym toe gaan en moeg vir goed leer en moeg vir die mense om my en moeg vir die verantwoordelikhede van die aldag en net moeg vir die lewe. Party keer wil ek net my oe sluit en slaap tot ek volgende week van self wakker word en die wêreld heeltemal verander het.

Vandag het ek die tweede eksamen uit nege geskryf en ek is al klaar uitgeput. Dis nie dat ek dit nie geniet om te leer nie, dis net dat ek dit nie geniet om daaroor getoets te word nie. Ek sou verkies om net mondelinge te doen. Om julle te oortuig met my woorde, nie my skrif nie.

Nou ja. As ek moeg raak vir hierdie vier mure gaan stap ek party keer deur die buurt en koekeloer vir die mense wat hier om my bly. Noudiedag het ek die fantastiese heuwel ( haha) aan wie se voet ons bly  uitgestap (dis letterlik net 50m, ek laat dit nou na 'n berg klink). Toe ek aan die ander kant weer afstap kom 'n ouerige paartjie uit hul kompleks. Ek sou skat altwee was in hul sewentigs. Sy het 'n donker blou broek en blou toppie en 'n string pêrels gedra. Haar hare was mooi opgepof soos die dames in Mad Men. Die oom het 'n deftige helderbruin ( nie juis bruin nie, eer soos sandkleur) broek gedra met 'n ordentlike hemp, 'n bruin belt en netjiese bruin skoene. Dit was snaaks om mense te sien wat vir 'n sondagmiddagstappie so uitegevat lyk.

Die tweetjies het handjies gehou. Hulle skaduwee het een geword soos hulle die heuweltjie afgestap het. Hy het net een keer vinnig haar hand gelos om oor die straat te stap maar dadelik weer daarna gesoek toe hulle aan die ander kant was.

Ek powerwalk toe maar verby. Ek wil nie die derde wiel wees hier nie. En dit lyk bietjie snaaks as ek so vir hulle dophou. Dis snaaks wat mens so Sondagmiddag sien: kinder speel in tuine, mense braai, honde blaf. Dit lyk as of almal tog heel gelukkig is.

Later sien ek toe weer 'n ouer paartjie. Hierdie keer was hulle nie heeltemal so uitgevat nie: sy het 'n beige sak aangehad en sy wit hemp was die selfde kleur as sy hare.

Toe hulle sien ek stap aan die selfe kant van die straat as hulle het hulle vinnig gewissel. Ek wonder hoekom. Oor my? Ek hoop nie so nie. Ek hoor hy sê vir sy vrou dat die son nie so sterk sal wees aan die ander kant nie. Ek weet darem nie, dis 'n Sondagmiddag en die son is oorals.

Dis vir my lekker om vir die bure te kyk. Mens weet nooit wie woon agter al die hoe heinings nie en niemand gesels meer met mekaar nie. Vroeer het ons partytjies gehou en almal om ons genooi, maar daai dae is verby. Met party bure praat mens en het 'n goeie verhouding, maar met die meestes nie. Agter in die een hoek van die tuin is daar 'n hekkie wat na die bure se tuin gaan. Ek ondthou ons het hom toe ek klein was dalk een of twee keer oopgesluit. Nie meer nie. Ek wonder of die mense wat na ons in die huis gaan bly dalk weer die hekkie sal oopmaak of of ons gemeente maar almal agter hul mure sal skuil.




No comments:

Post a Comment